Sjoe, was al wat ’n mens kon uitkry ná die Kaapse fluitspeler Liesl Stoltz se verstommende vertoon van tegniek én musikaliteit in haar vertolking van Rodrigo se Concerto Pastoral vir fluit en orkes.
Sy was Donderdagaand die solis saam met die Kaapse Filharmoniese Orkes (KFO) se eerste winterreeks-konsert in die Kaapse stadsaal.
Die gehoor kon nie anders nie as om dié musikus te beloon met ’n lange applous vir musiek wat die fluitspeler in talle opsigte uitdaag.
Rodrigo het dié fluitkonsert vir die Ierse fluitspeler sir James Galway geskryf. Galway is ’n meester van tegniek, en Rodrigo het ’n uiters moeilike musiekstuk gekomponeer wat alle aspekte van Galway se vakmanskap ten toon kon stel.
Dit is ’n werk waarin fluitspelers sekerlik ekstra vingers en groter longe sou waardeer.
Wat interessant is omtrent die werk, is die gesprek tussen die fluit en die ander orkesinstrumente, waarvan talle ook solo’s lewer.
Stoltz het met die opening van die allegro-deel reeds aangegryp. Elke passasie (met ritse note) is sekuur gespeel. Dit verg uiters goeie asembeheer om deur hierdie frases te kom, en Stolz het dit voortreflik gespeel.
Die pragtige adagio-deel het ’n mens aangegryp. Stolz het met ’n suiwer klank die liriese passasies besonder mooi gespeel. In die cadenza het sy weer eens beïndruk deur haar goeie tegniek (wat haar talle pryse in internasionale fluitkompetisies verklaar).
Die laaste deel (rondo) was ewe aangrypend.
Die KFO het onder leiding van Pieter Daniel die program geopen met die ouverture tot een van Mozart se vroeëre operas, La Finta Giardiniera.
Die strykers het hierin geïmponeer met hul ligte aanslag, en die orkes het ’n geslaagde uitvoering gelewer.
Ná die pouse is Beethoven se Derde Simfonie, die “Eroica”, gehoor, wat origens ’n puik vertolking was.
In die eerste deel, allegro con brio, het die strykers weer eens getref met goeie spel.
Met die sagte openingsnote van die dodemars-deel (adagio assai) was die klank egter yl.
WAYNE MULLER