Klassieke musiek
Liesl Stoltz
Baxter-konsertsaal, Rondebosch
Ek het al voorheen hieroor gekla en ek moet seker ophou. Maar ek gaan nie, want dis iets wat my pla. Hoekom is die konsertsale nie volgepak wanneer Liesl Stolz speel nie?
Moontlike redes? Fluitmusiek val nie in almal se smaak nie; die bemarking was nie goed nie; of almal wat op pad was se motors het gaan staan. Ek weet nie.
Toegegee, Dinsdagaand se opkoms was nie uitermatig sleg nie, maar dit kan steeds baie beter. En dit móét beter, want sy is een van ons land se topmusici. Sy is goed bygestaan deur die pianis Pieter van Zyl.
Sy het begin met Sarabande – for the days of the sundog, ’n nuwe werk deur Paul Hanmer.
Volgende was haar weergawe van die “Meditasie” uit Massenet se opera Thaïs. Dit was suiwer en baie musikaal gespeel en haar gefokusde klank sal die meeste fluitspelers jaloers maak. Daarna het nog ’n nuwe werk, Peter Klatzow se Sur une route toute blanche gevolg. Die meeste van die musiek wat die aand gespeel is, het ’n Franse element bevat, en hier het dit geklink of Klatzow geïnspireer is deur die bekende Franse fluitmusiek van die 1900’s. Dit bevat pragtige lang lyne waar die fluitspeler se klank ten toon gestel kan word, asook vinnige passasies. Dit is ’n welkome toevoeging tot die fluitrepertoire.
Die Rameau-werk, saam met Van Zyl en Paula Fourie (altviool), het balansprobleme gehad. Maar die drie het nie sleg gevaar nie, so ver ’n mens barokmusiek op moderne instrumente met ’n romantiese aanslag goed kan laat klink.
Braam du Toit se stemmingsvolle Filigrame – for Florence, nog ’n nuwe werk, vir basfluit, altfluit en allerhande interessanthede in en om die klavier, was ’n hoogtepunt.
In die res van die program het Farida Bacharova (viool), Stanislav Anguelov (akkordeon) en Roxanne Steffen (kontrabas) Stoltz en Van Zyl vergesel met werke van Cosma, Tiersen (“La Valse d’Amélie” uit die fliek Amélie) en Godard, wat alles deur Matthijs van Dijk verwerk is.
Die aand is met Jules Mouquet se Sonata La flûte de Pan briljant afgesluit.
Naudé van der Merwe – Die Burger 17 March 2011